Die eerste Afrikaanse hoërskool suid van Pretoria, bekend as Lyttelton Hoërskool, het sy deure in 1958 geopen.
Die skool was geleë op die hoek van Potgieter- en Pretoriusstraat en het aanvanklik ‘n inskrywing van 259 graad 8-leerders en 13 personeellede gehad. Die nuwe skoolgeboue, wat oorspronklik beplan was vir 750 leerders, is in 1960 amptelik ingehuldig met ‘n inskrywing van 764 leerders en 33 personeellede. Teen 1975 het die leerdersgetal gegroei tot sowat 1200.
In 1975, gedurende die taalfeesjaar, is die skool herdoop na Hoërskool Verwoerdburg. Na die politieke veranderinge in 1994 is die skool se naam weer aangepas na Hoërskool Centurion.